Oliepastel Reënboog Bome

Ek het nou nog klein stukkies oor van my eerste olie pastelle wat ek as kind een jaar present gekry het op my verjaarsdag. Daardie reuk!! So hierdie kunsklas tyd was ek skoon nostalgies.

Mamma het die bome met ‘n swart viltpen geteken. Die gapings tussen die takke het ons met reënboog kleure pastel ingevul. Ons het kleure inmekaar gevryf met ons vingers. Die onderkant is met blou verdunde koekkleursel geverf.

En kyk net hoe mooi…

Dink hoe mooi woud kan ‘n hele klas saam maak!

Wurm🐛

‘n Vinnige plan om in 5 minute iets te maak wat hulle 55 minute lank kan besig hou

Repies groen karton of papier in sirkels vasgekram. Die stapler saam druk is pret. En 2 groen kolletjie plakkers vir oë. En siedaar. Jou wurm is gereed om blare en blomme te gaan soek in die tuin!

Milky-penne kry 2e kans

Ek het dié milky-penne op my lessenaar al vir 5 jaar lank. Maar hulle skryf so swak!! So toe die trane vandag begin val oor die 2e kwartaal soos n berg voor ons almal lê, toe is kunsklastyd n goeie troos!💛💚

Ons het hulle doppe voor afgeskroef en tandestokkies in die pypies gedruk asof dit ons kwassies is. En toe die ink min raak sommer net al die laaste druppels uitgeblaas.

Gelukkig het ek n paar swart bladsye gehad wat dit ekstra awesome gemaak het😉!

Kids happy. Mamma happy. Lets go 2e kwartaal!!💛💚

Alfabet

Dit was amper 2 jaar se projek! Maar dit was so lekker. Dit was ‘n hele gesinspoging met PappaSep wat vir ons moes help met D,F en Y. En klein Albert wat gesorg het dat die tandeborsel nie meer op T is nie.

Ek het probeer om klomp verskillende mediums te gebruik. Jip J se jassie is gebrei en U se uil is kruisiesteek! 🙂

Hier is ons lysie:

A- Appel&Albert :  ‘n pragtige waterverf prentjie uit die landbouweekblad

B – Blommetjie : gedroogde blommetjies

C – Chloë&”Cupcakes” : papier-plakwerk

D – Deur : ‘n plankie met ‘n skroefie handvatsel

E – Ertjies : krale vas gewerk op papier

F – Fiets: draadwerk

G – Groen, Gras, Gare : masjien stikwerk met groen gare op papier

H – Huisie&Hartjie : appliekwerk met komberssteek op karton

I – Inkleurkryte : inkleur 🙂

J – Jassie : breiwerk

K – Kroon&Knope : goue knope geplak

L -Lika&Liewenheersbesie : papier-plakwerk

M – Maan : karton met foelie oorgetrek

N – Nessie&Naaldekoker : stokkies geplak vir nessie en naaldekokerlyfie

O – Oranje : vingerverf

P – Paddastoel&Pienk&Padda : papier-plakwerk, en kinders het self wit kolle geknip. En ons het toevallig ‘n pienk padda knoop gehad!:D

Q – “Quilt” : quilting 

R – Reenboog : reënboogstokkies en inkleur

S – Skapie :  Watte en knopies plakwerk

T – Tandeborsel&Tandepasta : …daar was ‘n ou tandeborsel geplak…

U – Uil : kruisiesteek

V : Verf, Voetspore, Voete : voetafdrukke met verf

W – Wasgoed : Appliek 

X – xxx : kruisies geborduur

Y – Yster : pappa het vir ons ‘n hoof en kleinletter Y gesweis

Z -Zebra : plakwerk met wol



As jy hierdie wil aanpak, gebruik woorde wat in julle gereeld gebruik. Dinge wat vir jou kinders bekend sal wees. Ons het ook terwyl ons besig was met ‘n letter vir die hele week woorde gesoek wat met dieselfde letter begin. Lê dus eers een letter lekker vas voor jy die volgende een aanpak. Maar dis als maar net tips, die belangrikste is om saam pret te hê!!

Hoop dit inspireer julle.

xxx

Sommer Somer in die Winter

Benodighede:

image

Gekleurde Afvalpapier
Tongspatels
Gom
Skêr (verskillende tandjies skêre is pret)
Gaatjiedrukker

image

Ek het die op pinterest gesien. Ons het lekker knipvaardighede geoefen en sommer geleer hoe werk ‘n gaatjiedrukker ook😉.

En die kersie op die koek of soos die twee sal sê die sprinkles op die cupcake is die kreatiwiteitsontwikkeling!

image

Vir Mamma-Annikant kon ons klomp van haar afvalpapiertjies wegwerk!😊

Dag 2 toe word die kolwyntjies roomyse!

image

image