Ou stories

Ek kuier die afgelope tyd by Tannie Audrey Blignault deur Die Rooi Granaat en dan borrel daar stories in my op. Eintlik net woorde en gedagtes.

Die krulletjies en bolletjies van die letters in hierdie ouer boeke het my klaar altyd in vervoering. Om dan nie eers van die kappies en kolletjies woorde te praat nie: liekeries – ôl-sôrt (uit ‘Waar is die winkelboekie?’) Dis soos ‘n stukkie kuns vir my! Hy sal moet woordjiesmuur toe. (Het ek al ooit gebieg dat twee kolletjies op die ë die grootste rede was hoekom Chloë se naam Chloë is.)

Wat my eers lieries maak is as die son so dans op die bladsy wat nie so spierwit is nie en dan voel ek of ek by die tannies kuier en hulle net hulle hartstories vertel. Tannie Alba, Tannie Hester en nou Tannie Audrey. Hulle vertel van hoe eenvoudig of hartseer of snaaks die gewone lewe is. Ek kan net dink hoeveel moeite in dit is om dit in ‘n boek te sit en hier tik ons vandag sommer ‘n storie en almal sê hulle sê. So sonder om dit te oordink. 

Ek wil myself voorneem om dinge te skryf en te vertel wat werklik iets beteken en in dieselfde asem altyd net myself bly. Mag ek altyd ook so rou stories vertel sonder te veel byvoeglike naamwoorde en grêndgeit. (Ek het nog ‘n hele relaas oor hoekom woorde -heid aan het, as ons geit sê en dit n geit is!)Inelkgeval, Net soos hy is stories. Lag en huil in een stories. Eerlike stories en tog ook lekker dik stukke, so asof my pa dit vertel en jy weet dat jy weet dis ‘n liegstorie maar dis dan so lekker storie😄.

Ek het ‘n Lady Baltimore koek bestel by my sussie, waarmee Tannie Audrey so brag in die boek. Ek het al die ou liedjies waarvan sy praat op deezer geluister terwyl ek verder in die outyd kuier.

As iemand weet van nog juwele soos hierdie boeke asb let me know. My gunstelinge so vêr:

1. Ek gooi my luike oop- Hester Heese

2. Die afdraend van die dag is kil- Alba Bouwer

3. Die rooi granaat – Audrey Blignault

Challenge vir die Desember vakansie: Lees ‘n ou storie terwyl jy sit in die son en kry weer perspektief.

‘n stukkie uit ‘NOMMER AGT ASSEBLIEF’

Oinkies

Ek’s bang om diere stories te deel, want ons oorlewingsrekord is nie wat wonders nie, maar die een was so spesiaal, dat ek hom graag wil onthou.

Die verlange is baie van die sussies nie meer op die werf is nie. Ons word toe gebless met vriende wat ‘n potbelly varkie vir Albert present gee. Naam is gekies: Oinkies🐷! Ons ry Vanstadensrus toe om hom te gaan haal.

Oinkies ry stroopsoet terug al die pad op sy nuwe baas se skoot. Ons stop by die huis en sit die mak varkie neer dat hy sy bene kan strek….en daar vat hy die pad!! Daar is ‘n rede hoekom iemand die liedjie geskryf het: “kom help my varkie vang!” Dis so te sê onmoontlik! Hy glip met sy stywe boudjies en krul stertjie dwars deur jou hande! Hoe meer ons jaag hoe verder hol Oinkies in die veld in, tot hy verdwyn tussen die riete in die vlei.😨😢

Die trane het geloop. Hy is rooikat kos nou. Weg. Weg. Weg.

Die backstory van varkie week is, dat ons “Die verlore seun” gedoen het vir n bybeltema omdat hy mos op die ou end die varke se kos wou eet. Ek het gedog dis hoe die twee stories mekaar gaan aanvul. Maar toe dit toe nou al pik donker is, sê ek vir Albert, ons sal nou maar moet hoop hy kom huistoe soos die verlore seun. Ek en hy sal soos die pappa in die storie moet wag en bid vir hom.

En wraggies, die Here stel nie teleur nie. Sep hoor heelwat later die aand gomf-gomf buite die agterdeur, en daar is Oinkies! Self sy pad terug gevind op die vreemde werf, huistoe!

🐽varkie klanke🐽

Albert sê vir my terwyl ons Oinkies veilig in sy nuwe hok sit: I once was lost, but now I’m found. ♥️

Amazing Grace se storie sal net nooit weer dieselfde wees in die huis nie. OINK OINK!🐽

Stapstorie

Meisiekinders is koshuis toe vanoggend. Dis tyd dat ek uitkom. Ek stap verby dik dassies wat gly oor die klippe. In die veld lê ons ou badkamer se bad. Die een waar in ek nog gelê het vol growwe sout water na Lika se geboorte. Waar is die tyd heen?

Die steenbokkie hoor my hopeloos te laat. Kan hy nie hoor hoe hyg ek nie?! Ek hou aan stap en onthou die eerste keer wat ek ‘n doodstil dikkop onder die bos sien sit het. Ons het geskrik en mekaar ongemaklik lank in die oë gestaar. Altwee gemaak of ons mekaar nie sien nie.

Ek stap aan en gaan sit op ‘n rots vol rooi mos. Asof die Here vir my ‘n boodskap los. Rooi is nog altyd my kleur gewees en as ek dit raakloop so in die veld, voel dit of Hy aan my gedink het.

Teen die randjie uit, na ek bietjie onder die kiepersol eers asem geskep het, betrap ek wraggies die dikkoppe. ‘n “Couple!” Hulle flap hier by my verby en gaan hou hulle standbeeld agter die naaste bos. Ek’s seker hier is ‘n nes, maar weet nie waarvoor om te soek nie en voel bietjie sleg om so ongenooid in hulle huis rond te loop.

Ek klim tot by die baken en ‘n klein kwikkie aka klikkie vertel vir die hele kop om pad te gee. Ek haal my foon uit om ‘n foto te neem van die berge wat soos n huisgenoot 3D prent lê. Terwyl ek so spartel om ‘n lekker sitplek te kry druk ek wild baie knoppies op my foon en toe ek opkyk om te sien of ek alweer ‘n eisteddfod gedig op al my groepe broadcast, soos die keer toe ek tuingemaak het met my on-gelock-de foon in my gatsak, sien ek my foon is oop op my blog. Ja, die een wat ek so graag op my stories wil skryf maar te skaam is vir my spelfoute en te besig is om kans te kry.

So nou sit ek hier.
Op die klip en tik.
Sodat ek kan onthou.
Hoe Hy van my weet.

Ek stap terug tussen deur die aalwyne. Moet nou mos ‘n foto van die bad gaan neem vir die post. As ek so maklik vloekwoorde kon tik soos ek hulle sê…maar skiet ‘n vet swartrot hier tussen deur die klippe! Nee wag dat ek in die skape se paadjie hou.

Maak ‘n kopnota om te kom kyk of die aalwyne dalk in die somer blom. Maak nog n kopnota- skryf weer stories! Maak ‘n droomnota…wens hierdie is deel van my volgende hoofstuk.

2022

Ek het geen idee hoe om hierdie in woorde om te sit nie.

Kom ek begin by die begin.

Ons ry in die kar en gesels oor ons woorde vir 2022. Lika (10) sê sy wil meer en dieper dink oor dinge. Sep (43) sê hy kort geduld. Albert (5) wil man-up en nie meer so skaam wees nie. Chloë (8) dink lank en erken dan dat sy vriendeliker en minder kwaai wil wees. Ek (36) het obviously n laaaang storie oor hoe ek wil hê my lewe soos Jesus moet ruik en lyk, maar ek kry nog nie 1 woord om dit te pin point nie.

Ek sit in die kerk die volgende dag en sien ek het 2 Korintiërs 6:6 in die week in bullet points opgebreek:

“Tog leef ons rein en opreg. Ons het die regte kennis oor God. Ons is geduldig en ons straal warmte en vriendelikheid uit. Die krag van die Heilige Gees is ook deur ons werksaam. Ons het ander mense regtig lief, sonder dat ons enigiets in ruil van hulle terugverwag.”
2 Korintiërs 6:6 Die Boodskap

1. Rein en opreg (purity) – dit wat ek na smag
2. Dieper insig – Lika
3. Geduld – Sep
4. Warm en Vriendelik – Chloë
5. Opregte liefde vir ander (uncritical love) – Albert se antidote vir man-up


Als saam deur die krag van die Heilige Gees wat in ons werk.

Hoendervleis moment. Vir my.

Ek bedink die rein en opreg ding bietjie. My ma kom kuier en bederf my met ‘n wit amarilla bol.   Net drie groen snaakse slangkoppe in ‘n pot, maar ek sit hom in die son. En voor my oë gebeur die wonderlikste ding! Geen woorde kan dit beskryf om daardie plant te sien groei nie. Trosse wit blomme gaan oper en oper elke keer wat ek daar verby loop. Dis die mooiste, reinste en spesiaalste belewenis.

Ek bel my sussie en sê dís soos ek die jaar wil wees. Soos dié wit amarilla. So rein en opreg en met ‘n presence dat iemand groter hier teenwoordig en besig is.

Sy sê die liefste roosboom wat sy is, jy weet hoe word iets rein né. En ek ys. Dis juis hoekom ek die woord al 3 jaar dodge. “Jip,” sê ek. “Jy gaan deur vuur maar ek lees in Maleagi dit kan wees soos om met sterk seep gewas te word. Vuur klink scary maar vir n droogskoonmaak sien ek kans!”😅 Maar iewers in my hart raak ek bietjie benoud oor die woord vir 2022.

Fast forward ‘n week en ek stop in die straat voor die koöperasie en hier stop Lizette agter my. Spring uit en sê: “Ek’t iets vir jou.” Ek is so bly oor die koekies wat sy nou gaan uitruk want dan hoef ek nie te bak nie…maar dis toe nie wat sy op haar hart het om ,onbewus van die hele woord storie, vir my te gee nie.

Sy draai om en haal ‘n wit amarilla uit haar kar. 🤍

So here we go rein en opregte wit amarilla 2022. En ek sien uit na hoe die Here my op sulke wonderlike maniere gaan verder lei. What a journey…

Truspieëltjies

Ek ry vandag op presies dieselfde pad as in 2008. Tussen Trompsburg en Smithfield.

2008:

Ek onthou die foto en hoe ek gebid het: “Asseblief Here, net nie hier nie! Laat my asb net nooit hier bly nie. Ek is doodseker die mense hier kan nie eers lees en skryf nie, so vêr weg is dit van die samelewing!”

Ek neem vandag in die ry ‘n foto en kyk in my lewe se truspieëltjies van 13 jaar.

2021:

Hoe dankbaar is ek nie dat U my ontwortel het uit my bolandse bedding en my hier tussen die rooigras kom plant het nie. Ek sou nie in my wildste drome kon raai dat ek 13 jaar later hier verby sou skiet om my drie kinders gou swemles toe te vat nie.

Of dat hierdie man nog voor die truspieëltjie staan en al die pad vooruit bestuur terwyl ek foto’s neem en stories skryf oor ons avontuur. (Hy kon toe lees en skryf😉😅)

En dat ek glad nie omgee om teen die teerpad te wag vir Sterkwater se lorrie nie. Dan is ek en Maans, die drywer, altyd ewe bly om mekaar te sien terwyl ons pakkies uitruil. Ouma stuur musiekboeke Smithfield toe en ons stuur die handmedowns boland toe na die niggies toe.

Daar loop maar altyd ‘n traan as Maans so wegtrek met die lorrie se diep dreuning, maar dan skiet ek huistoe met my eie stofstreep agter my en loop met ‘n vol hart in by my eie rooideur.

Ek onthou skielik dat Lydia eergister vir my ‘n klip gegee het by bybelstudie met die woord past op. Ons is besig met Facing your giants van Max Lucado.

Ek’t eers geskrik en gedog dit beteken geraamtes in die kas. 😅 Maar dis presies die teenoorgestelde. Dit beeld een van die vyf klippies in Dawid se sak uit oppad na Goliat toe. Hy het geweet dat God hom al in die verlede getrou bewaar en gered het en dat hy dit op daardie oomblik weer sou doen. As reuse/monsters in die vorm van aaklige dinge of gedagtes jou bekruip kan jy hulle morsdood, plat slingshot met die krag van geloof en ‘n lys van hoe goed God al vir jou in die verlede was.

As jy soos ek ‘n langlys het van hoe God jou al jare deur dra dan kan jy net in jou truspieëltjies kyk en sê. Wow. Dankie Here! U was nog altyd net so so goed vir my.

Hierdie kan die temalied wees van truspieëltjies: Bethel Music: Goodness of God. Ek kan dit nie sing in die kerk sonder ‘n knop in die keel of ‘n dankbare traan op my wang nie.

All my life you have been faithful. All my life you’ve been so so good!!

https://youtu.be/n3t6CdeiN1M

Goodness of God

Visvangertjie

Die AMAZINGSTE ding het met my gebeur en ek is doodseker mense sal dink ek jok, maar die beste van alles is ek het foto’s om dit te bewys!

Laat ek by die begin, begin.

Ek het eenkeer jare terug uit die hoek van my oog, toe ek verby die riete in die vlei ry, iets bont gesien, en gedink dit kon dalk n visvanger babatjie wees. En so het die obsessie begin…

Ek het hom weer en weer begin raak sien en later agter gekom dit in n dwergvisvangertjie. Die kinders moes al ure saam met my op die groot hubbel (soos hulle dit noem) sit en kyk of ons hom nie sien nie. Sep moes al telke male eers reverse, want ons sien hom op n takkie!

Tot eendag wat hy so mooi op die draad langs die pad sit en ons hom lank kon bewonder, hy afvlieg n paddavissie vang, terug vlieg tot op die draad, met een sluk die ding afsluk en tjorts n witstreep uitskiet. Daar is seker maar min plek in daai klein lyfie😄Ons het lekker saam gelag.

Ek het die Sasol voël app op my foon en eintlik kom die dwergvisvanger nie hier voor nie. Wat dit als net soveel meer spesiaal maak.

Die kinders begin toe met die drome van wat as hy vlieg en op mamma se skouer kom sit, en wat as mamma hom kan vashou en imagine dit was mamma se troeteldier! (Wat nooit sal werk nie want wie gaan heeltyd vissies vang en dit vir hom voer!😅)

En toe uit die bloute laasweek kom die kinders skreeuend in die huis in: “Mamma! Mamma! Kom kyk wat het Alina opgetel in die tuin!!!’

Ek hardloop saam uit en daar in haar hande is hy. Nie n dwerg een nie maar n jong kuifkopvisvanger. Dwergie se groot boetie. Ek kon my oë nie glo nie. Hy het blykbaar in die ruit vasgevlieg.

Sy gee hom versigtig vir my en ek hou hom saggies vas teen my lyf.

En toe teen my gesig om te wys dis regtig ek wat hom vashou.

En toe begin hy pose! So mak op my hand!

Daar was selfs tyd om n video te maak want ek was bang niemand glo my nie!

En toe Chloë hom ook wil vashou, sprei hy sy vlerke en hop op haar kop en vlieg weg.

Ek was verstom. Ek kon nie glo dat so ‘n absolute vergesogte droom en wensdenkery kon waar word nie. Kan God my so lief hê dat hy tot n voëltjie van my drome sal stuur om dit weer vir my te kom wys?!!

Ek het twee dinge hieruit geleer.

1. God is ‘n God van detail en hy ken ons en ons hartsbegeertes tot in detail!

2. Ons moet droom. Hardop en belaglik mal. Want hoe sal ons drome ooit kan waar word as ons hulle nie identifiseer nie.

2020 het begin vir my met n reënboog en 2021 met n visvangertjie in my hand! Ek kan nie wag om te sien wat hierdie jaar inhou nie!🌈

..En toe…

Ek het lanklaas hier ons lewens storie vasgepen. Baie dinge het gebeur intussen😊. Hierdie blog was nog altyd n plekkie waar ek vir my kinders wou boekhou van ons avonture, en mense saam neem op ons reis terwyl ons, ons storie skryf. Wie weet wat in die volgende hoofstuk gaan gebeur na hierdie plot twist😄 Ek deel dit graag met julle:

Die jaar het so afgeskop en ek het geweet die gaan n goeie jaar wees! Propvol hoop en beloftes. 20Plenty!

Ons 2de sussie is koshuis toe.

Dit het baie goed gegaan. En toe kom Covid…

En toe begin ons skool-skool speel.

En toe so deur die speel-speel kom ek agter dat dit my hartsbegeerte is om my kinders naby my te hê en saam met hulle te leer.

En toe bid ek en Sep (my man en linkerbrein) en al 3 kinders saam vir vrede en wysheid in ons groot besluit en hier is ons nou:

Ingerig met ons eie klaskamer en 4 maande besig met offisiële tuisonderrig.

Ek kan nie glo dat die Here my so lief het om so diep hartsbegeerte ten midde van ‘n pandemie te kom openbaar aan my nie. Ek kry my instagram post van Aug 2019 waar ons ‘n Woensdag middag toevallig by die koshuis was en vir Lika gesien het. My caption: “Wens elke middag van die week was so.” En hier n jaar later is my droom n werklikheid! Elke middag is ons saam!

Dit was nie maklik om die skool te groet nie. Ons is lief vir die skool en hulle was baie goed vir ons. Ek wil ook baie graag sê dat almal se pad anders is, en daar baie verskillende maniere is om van hier tot daar te kom. Almal beleef en doen dinge anders. Dis Ok! Nie een pad is perfek of enigsins sonder papwiele of opdraende nie, maar so het elkeen afdraende en mooi scenery ook!😊Ons het hierdie nuwe afdraai gevat en nou ry ons hom. Op en afdraende.

En ja! Ons verlang na ons maats op die bus wat verder teerpad ry. Maar ons glo ons gaan saam by dieselfde eindbestemming aankom. 🚌

Liefde

Annekind.

To be continued….

Pekanneute

So as Arbeidsterapeut is mens konstant besig om oulike aktiwiteite uit te dink en te versamel. Allerande interessante maniere om al die deeltjies van n kind se ontwikkeling te stimuleer. Speelgoed en speletjies is hier n oorvloed van in ons huis! Daarmee saam laat voel sosiale media en Pinterest mens nog dit is hoe dit hoort!!

Maar nou die dag stap ek en die twee kinders wat nog by die huis is, hier rond en ontdek die pekanneutboom se neute is ‘gaar’ (soos die plaasmense sal sê.)

Ons skud die lae takke en dan val die neute tussen die lang onkruid en gras. Daai twee soek vir die neute soos wat hulle nooit vir n verlore sokkie ooit sal soek nie. Groot vreugde as hulle dit kry! Voorgrond-agtergrond ✔ Oogbewegings✔

Nou vir die hoë takke is dit eers planne beraam. Ons klim later op n leë drom en slaan met ‘n laaaaannngg stok! Probleemoplossing✔Balans✔Grof motories✔

Nou is dit vir neute kraak. Die twee vind gou uit dat byt met die tande nie werk nie en sit die neut mooi op n klip en kap met n ander klip. Die koördinasie van uiterse presisie! Kyk die video hier onder!😁 Hand-oog koördinasie✔ Aandag en konsentrasie ✔

Nou vir die afdop!! Ek wens julle kon sien hoe daardie klein vingertjies die klipharde doppe met moeite sit en afdop. Maar die beloning is so die moeite werd dat hulle aanhou sonder om eenkeer te kerm of belangstelling verloor!! Fyn motories✔ Frustrasie toleransie✔ Deursettingsvermoë✔ Om van al die sensoriese stinulasie nie eers te praat nie. Want het jy al oorhaastig van die bitter doppe geproe????😝😝😄😄

Ek staan hulle so en kyk en besef: ons spandeer te veel tyd om kinders te probeer leer hoe om te leef, ons moet eerder DAT hulle net leef!! Als wat ons nodig het is daar buite klaar vir ons reggesit deur God. Al wat ons kort is oop oë om dit raak te sien! Glo my as ons as grootmense dalk nie dit raak sien nie, die kinders se oë sal!

Die lewe het so plastiek en kompleks geraak. Ons weet te veel en voel te min. Hoe wonderlik dat dit wat ons kinders nodig het om te leer en te ontwikkel eintlik verniet daarbuite is in die natuur. Free therapy all the way 😁. Volgende keer los ek maar die volgende fancy speletjie en gaan koop ‘n sak neute nog in hulle doppe!

Droom Pampoene

Die beauty kom uit ons groentetuin met sy krulletjies kop en het sommer so tussen die skorsies uitgepop. Ek kon myself nie keer om dit in ‘n koets te verander nie. Sjoe ek dink ek moet my kinders meer toelaat om hulle verbeelding te gebruik, kreatief te wees en te droom!! En selfs foute te maak…

Hulle sit toe n prinses en ‘n skoenlapper op die backseat en lyk my n hond onder die reënboog ook. I mean why not?

Dis nie ontoepaslik in die huis om op groente te skryf nie, maar dis nie aldag wat Mamma haar Artline koukie deel nie🤣😃🤣

Naaldwerk in die Are

Dis ‘n baie spesiale oomblik as jy die saadjies van iets waarvoor jy lief is sien opkom in jou kinders!

My middelkind het by haar Tannie Zaiki ‘n kinder naaimasjien present gekry vir haar 6e verjaarsdag.

Ons het dadelik weggespring en die projekte het eweskielik geen einde nie!

1ste was ‘n kopband.

2de ‘n Kussing vir lolita

3e ‘n Muis speldekussing- want n naaldwerk girl kort haar eie speldekussing…

En 4e was n handwerk projek en het ons nou komberssteek ook onder die knie. 😙

Pineapple Penciltoppers 🍍🍍

Dit het vir hierdie middelste kind se selfbeeld die wêreld beteken om haar eie talent te ontdek. Dit was nie moeilik nie want die wol en gare loop dik in die are!💛

Ek sien uit na nog baie naaldwerk avonture liefste PolihesterChloëtoen😙