Visvangertjie

Die AMAZINGSTE ding het met my gebeur en ek is doodseker mense sal dink ek jok, maar die beste van alles is ek het foto’s om dit te bewys!

Laat ek by die begin, begin.

Ek het eenkeer jare terug uit die hoek van my oog, toe ek verby die riete in die vlei ry, iets bont gesien, en gedink dit kon dalk n visvanger babatjie wees. En so het die obsessie begin…

Ek het hom weer en weer begin raak sien en later agter gekom dit in n dwergvisvangertjie. Die kinders moes al ure saam met my op die groot hubbel (soos hulle dit noem) sit en kyk of ons hom nie sien nie. Sep moes al telke male eers reverse, want ons sien hom op n takkie!

Tot eendag wat hy so mooi op die draad langs die pad sit en ons hom lank kon bewonder, hy afvlieg n paddavissie vang, terug vlieg tot op die draad, met een sluk die ding afsluk en tjorts n witstreep uitskiet. Daar is seker maar min plek in daai klein lyfie😄Ons het lekker saam gelag.

Ek het die Sasol voël app op my foon en eintlik kom die dwergvisvanger nie hier voor nie. Wat dit als net soveel meer spesiaal maak.

Die kinders begin toe met die drome van wat as hy vlieg en op mamma se skouer kom sit, en wat as mamma hom kan vashou en imagine dit was mamma se troeteldier! (Wat nooit sal werk nie want wie gaan heeltyd vissies vang en dit vir hom voer!😅)

En toe uit die bloute laasweek kom die kinders skreeuend in die huis in: “Mamma! Mamma! Kom kyk wat het Alina opgetel in die tuin!!!’

Ek hardloop saam uit en daar in haar hande is hy. Nie n dwerg een nie maar n jong kuifkopvisvanger. Dwergie se groot boetie. Ek kon my oë nie glo nie. Hy het blykbaar in die ruit vasgevlieg.

Sy gee hom versigtig vir my en ek hou hom saggies vas teen my lyf.

En toe teen my gesig om te wys dis regtig ek wat hom vashou.

En toe begin hy pose! So mak op my hand!

Daar was selfs tyd om n video te maak want ek was bang niemand glo my nie!

En toe Chloë hom ook wil vashou, sprei hy sy vlerke en hop op haar kop en vlieg weg.

Ek was verstom. Ek kon nie glo dat so ‘n absolute vergesogte droom en wensdenkery kon waar word nie. Kan God my so lief hê dat hy tot n voëltjie van my drome sal stuur om dit weer vir my te kom wys?!!

Ek het twee dinge hieruit geleer.

1. God is ‘n God van detail en hy ken ons en ons hartsbegeertes tot in detail!

2. Ons moet droom. Hardop en belaglik mal. Want hoe sal ons drome ooit kan waar word as ons hulle nie identifiseer nie.

2020 het begin vir my met n reënboog en 2021 met n visvangertjie in my hand! Ek kan nie wag om te sien wat hierdie jaar inhou nie!🌈